Privaatheidsbeleid
Laas gewysig: 27 Julie 2012 (kyk na geargiveerde weergawes)
Daar is verskeie maniere hoe jy ons dienste kan gebruik – om inligting te soek en te deel, om met ander mense te kommunikeer of om nuwe inhoud te skep. Wanneer jy inligting met ons deel, byvoorbeeld deur ’n nuwe Google-rekening te skep , kan ons daardie diens selfs beter maak – om vir jou meer relevante soekresultate en advertensies te wys, om jou te help om met mense in verbinding te tree, of om dit vinniger en makliker te maak om inligting met ander te deel. Terwyl jy van ons dienste gebruik maak, wil ons hê jy moet verstaan hoe ons inligting gebruik en op watter manier jy jou privaatheid kan beskerm.
Ons privaatheidsbeleid verduidelik die volgende:
- Watter inligting ons insamel en waarom ons dit insamel.
- Hoe ons daardie inligting gebruik.
- Die opsies wat ons bied, insluitend hoe om toegang tot inligting te verkry en dit op te dateer.
Ons het probeer om dit so eenvoudig moontlik te hou, maar as jy nie vertroud is met terme soos webkoekies, IP-adresse, piekselmerkers en blaaiers nie, lees dan eers op oor hierdie sleutelterme. Jou privaatheid is vir Google belangrik, so of jy ’n gereelde of nuwe gebruiker van Google is, doen asseblief die moeite om ons praktyke te leer ken − en as jy enige vrae het, kontak ons gerus.
Inligting wat ons insamel
Ons samel inligting in om ’n beter diens aan al ons gebruikers te lewer − van basiese dinge soos om vas te stel watter taal jy praat, tot meer komplekse dinge soos watter advertensies jy die nuttigste sal vind of watter mense vir jou aanlyn die belangrikste is.
Ons samel inligting op twee maniere in:
-
Inligting wat jy vir ons gee. Byvoorbeeld, baie van ons dienste vereis dat jy inteken vir ’n Google-rekening. Wanneer jy dit doen, sal ons vir jou persoonlike inligting vra soos jou naam, e-posadres, foonnommer of kredietkaartnommer. As jy ten volle gebruik wil maak van die delingfunksies wat ons bied, kan ons jou ook vra om ’n Google-profiel te skep wat vir die publiek sigbaar is en wat jou naam en foto insluit.
-
Inligting wat ons bekom deurdat jy ons dienste gebruik. Ons kan inligting insamel oor die dienste wat jy gebruik en hoe jy dit gebruik, soos wanneer jy ’n webwerf besoek wat ons adverteringsdienste gebruik of wanneer jy na ons advertensies en inhoud kyk en daarop reageer. Hierdie inligting sluit in:
-
Toestelinligting
Ons kan toestel-spesifieke inligting insamel (soos die model van jou hardeware, weergawe van jou bedryfstelsel, unieke toestelidentifiseerders en selnetwerkinligting, insluitend jou foonnommer. Google kan jou toestelidentifiseerder of foonnommer met jou Google-rekening verbind.
-
Log-inligting
Wanneer jy van ons dienste gebruik maak of na inhoud kyk wat deur Google verskaf word, kan ons sommige van daardie inligting outomaties insamel en in bedienerlogs stoor. Dit kan die volgende insluit:
- details oor hoe jy ons diens gebruik het, soos jou soeknavrae.
- telefonie-loginligting soos jou foonnommer, gespreksgenoot se nommer, aanstuur van nommers, tyd en datum van oproepe, SMS roetebepalingsinligting en soorte oproepe.
- Internetprotokol-adres
- toestelgebeurtenis-inligting soos programomvalgebeure, stelselaktiwiteit, hardeware-instellings, die tipe webblaaier wat jy gebruik, taal van webblaaier, die datum en tyd van jou versoek en die verwysde URL.
- webkoekies wat jou webblaaier of jou Google-rekening as uniek kan identifiseer.
-
Liggingdetails
Wanneer jy gebruik maak van ’n ligginggedrewe Google-diens, kan ons inligting oor jou werklike ligging insamel en verwerk, soos GPS-seine wat deur ’n draagbare toestel gestuur word. Ons kan ook gebruik maak van ’n verskeidenheid tegnologiese hulpmiddels om ligging te bepaal, soos sensordata vanaf jou toestel wat, byvoorbeeld, inligting kan verskaf oor nabygeleë Wi-Fi-toegangspunte en selfoontorings.
-
Unieke programnommers
Sekere dienste sluit ’n unieke programnommer in. Hierdie nommer en die inligting oor jou installasie (byvoorbeeld die soort bedryfstelsel en programweergawe-nommer) kan na Google gestuur word wanneer jy daardie diens installeer of deïnstalleer, of wanneer daardie diens ons bedieners van tyd tot tyd kontak, bv. vir outomatiese opdatering.
-
Plaaslike berging
Ons kan inligting (insluitend persoonlike inligting) plaaslik insamel en op jou toestel berg deur meganismes soos blaaier-webberging (insluitend HTML 5) en programdata-hulpgeheues te gebruik.
-
Webkoekies en anonieme identifiseerders
Ons gebruik ’n verskeidenheid tegnologiese middels om inligting in te samel en te berg wanneer jy ’n Google-diens besoek, en dit kan insluit dat een of meer webkoekies of anonieme identifiseerders na jou toestel gestuur word. Ons gebruik ook webkoekies en anonieme identifiseerders wanneer jy gebruik maak van dienste wat ons aan ons vennote bied, soos adverteringsdienste of Google-kenmerke wat op ander webwerwe voorkom.
-
Hoe ons die inligting wat ons insamel, gebruik
Ons gebruik die inligting wat ons uit al ons dienste insamel, om hierdie dienste te verskaf, te onderhou, te beskerm en te verbeter, om nuwe dienste te ontwikkel en om Google en ons gebruikers te beskerm. Ons gebruik ook hierdie inligting om aan jou pasgemaakte inhoud te bied − soos meer relevante soekresultate en advertensies.
Ons kan die naam wat jy vir jou Google-profiel verskaf het, vir al ons dienste gebruik wat ’n Google-rekening vereis. Daarbenewens kan ons vorige name wat met jou Google-rekening verbind word, vervang sodat jy konsekwent in al ons dienste verteenwoordig word. Indien ander gebruikers reeds jou e-pos of ander inligting wat jou identifiseer, het, kan jy vir hulle jou Google-profielinligting wat vir die publiek sigbaar is, wys, byvoorbeeld jou naam en foto.
Wanneer jy Google kontak, kan ons ’n rekord van jou kommunikasie hou om jou te help om enige kwessie waarmee jy sukkel, te hanteer. Ons kan jou e-posadres gebruik om jou in te lig oor ons dienste, soos om jou te laat weet oor toekomstige veranderinge en verbeteringe.
Ons gebruik inligting wat van webkoekies en ander tegnologie verkry is, soos piekselmerkers, om jou gebruikerervaring en algemene gehalte van ons dienste te verbeter. Byvoorbeeld, deur jou taalvoorkeure te stoor, is ons in staat om ons dienste in die taal van jou keuse aan te bied. Wanneer ons vir jou pasgemaakte advertensies wys, sal ons nie ’n webkoekie of anonieme identifiseerder met sensitiewe kategorieë assosieer soos dié wat op ras, geloof, seksuele oriëntasie of gesondheid gebaseer is nie.
Ons kan persoonlike inligting van een diens met inligting van ’n ander Google-diens kombineer, insluitend persoonlike inligting − byvoorbeeld om dit makliker te maak om dinge te deel met mense wat jy ken. Ons sal nie DoubleClick-webkoekie-inligting kombineer met persoonlike identifiseerbare inligting nie, tensy ons jou uitdruklike toestemming het.
Ons sal jou toestemming vra voordat ons inligting vir ’n ander doel gebruik as dit wat in die privaatheidsbeleid uiteengesit is.
Google verwerk persoonlike inligting op ons bedieners in baie lande regoor die wêreld. Ons kan jou persoonlike inligting op ’n bediener verwerk wat buite die land geleë is waar jy woon.
Deursigtigheid en keuse
Mense se privaatheidsbehoeftes verskil. Ons doel is om dit duidelik te maak watter inligting ons insamel, sodat jy sinvolle keuses kan uitoefen oor hoe dit gebruik word. Byvoorbeeld, jy kan die volgende doen:
- Hersien en beheer sekere tipes inligting wat aan jou Google-rekening verbind is deur gebruik te maak van Google Dashboard.
- Kyk na en hersien jou advertensievoorkeure, soos die kategorieë waarin jy belangstel, deur die Advertensievoorkeure-bestuurder te gebruik. Jy kan ook hier kies om nie van sommige Google-adverteringsdienste gebruik te maak nie.
- Gebruik ons redigeerder om te sien en te wysig hoe jou Google-profiel vir spesifieke individue lyk.
- Beheer met wie jy inligting deel.
- Onttrek inligting uit talle van ons dienste.
Jy kan ook jou blaaier stel om alle webkoekies te blokkeer, insluitend webkoekies wat met ons dienste geassosieer word, of om aan te dui wanneer ’n webkoekie deur ons gestel word. Dit is egter belangrik om te onthou dat baie van ons dienste dalk nie behoorlik sal funksioneer as jou webkoekies afgeskakel is nie. Byvoorbeeld, ons kan dalk nie jou taalvoorkeur onthou nie.
Inligting wat jy deel
Baie van ons dienste laat toe dat jy inligting met ander deel. Onthou dat wanneer jy inligting met die publiek deel, dit deur soekenjins geïndekseer kan word, insluitend Google. Ons dienste voorsien jou van verskillende opsies om jou inhoud te deel of te verwyder.
Kry toegang tot jou persoonlike inligting en dateer dit op
Wanneer jy van ons dienste gebruik maak, streef ons daarna om jou toegang tot jou persoonlike inligting te bied. As daardie inligting verkeerd is, streef ons daarna om jou maniere te bied om dit vinnig op te dateer of uit te vee − tensy ons daardie inligting moet hou vir geldige besigheids- of regsdoeleindes. Wanneer jy jou persoonlike inligting opdateer, kan ons jou vra om jou identiteit te bevestig voordat ons jou versoek kan uitvoer.
Ons kan versoeke van die hand wys wat onbillik herhalend is, wat buitensporige tegniese moeite gaan verg (byvoorbeeld om ’n nuwe stelsel te ontwikkel of om ’n bestaande praktyk fundamenteel te verander), die privaatheid van ander op die spel plaas, of wat uitermate onprakties is (byvoorbeeld versoeke oor inligting op rugsteunkassette).
Waar ons toegang tot inligting en die korrigering daarvan kan verskaf, sal ons dit gratis doen, behalwe waar dit ’n uitsonderlike hoeveelheid moeite gaan verg. Ons streef daarna om ons dienste op ’n wyse te onderhou wat inligting beskerm teen toevallige of kwaadwillige beskadiging. Om hierdie rede sal ons nie dadelik oorblywende kopieë van ons aktiewe bedieners uitvee wanneer jy inligting van ons dienste uitvee nie, en ons sal dalk nie inligting van ons rugsteundienste uitvee nie.
Inligting wat ons deel
Ons deel nie persoonlike inligting met maatskappye, organisasies en individue buite Google nie, tensy een van die volgende omstandighede van toepassing is:
-
Met jou toestemming
Ons sal persoonlike inligting met maatskappye, organisasies of individue buite Google deel as ons jou toestemming het om dit te doen. Ons vereis jou goedkeuring vir die openbaarmaking van enige sensitiewe persoonlike inligting.
-
Met domeinadministrateurs
Indien jou Google-rekening vir jou deur ’n domein-administrateur bestuur word (byvoorbeeld vir Google Apps-gebruikers), dan sal jou domeinadministrateur en herverkopers wat gebruikersteundiens aan jou organisasie verskaf, toegang tot jou Google-rekeninligting hê (insluitend jou e-pos en ander data). Jou domeinadministrateur kan in staat wees tot die volgende:
- kyk na statistiek oor jou rekening, soos statistiek oor die programme wat jy installeer.
- verander jou rekeningwagwoord.
- skort op of beëindig jou rekeningtoegang.
- verkry toegang tot, of behou, inligting wat as deel van jou rekening gestoor is.
- ontvang jou rekeninginligting om te voldoen aan die relevante wet, regulasie, wetlike proses of afdwingbare regeringsversoek.
- beperk jou vermoë om inligting of privaatheidinstellings uit te vee of te redigeer.
Verwys asseblief na jou domeinadministrateur se privaatheidsbeleid vir meer inligting.
-
Vir eksterne verwerking
Ons verskaf persoonlike inligting aan ons affiliale of ander betroubare besighede of persone om dit vir ons te verwerk, gebaseer op ons instruksies en in ooreenstemming met ons privaatheidsbeleid en ander relevante vertroulikheids- en sekuriteitsmaatreëls.
-
Weens wetlike redes
Ons sal persoonlike inligting met maatskappye, organisasies of individue buite Google deel as ons in goeder trou glo dat die toegang, gebruik, bewaring of openbaarmaking van die inligting redelikerwys nodig is om:
- te voldoen aan enige relevante wet, regulasie, wetlike proses of afdwingbare regeringsversoek.
- die relevante diensbepalings af te dwing, insluitend die ondersoek na die potensiële oortreding daarvan.
- bedrog op te spoor, te voorkom of andersins sekuriteits- of tegniese kwessies aan te spreek.
- te beskerm teen benadeling van die regte, eiendom of veiligheid van Google, ons gebruikers of die publiek soos deur die wet vereis of toegelaat.
Ons kan ingewinde inligting wat nie persoonlik herkenbaar is nie, met die publiek en met ons vennote deel – soos uitgewers, adverteerders of verwante webwerwe. Byvoorbeeld, ons kan inligting met die publiek deel om tendense oor die algemene gebruik van ons dienste te toon.
As Google betrokke sou wees in ’n samesmelting, oorname of bateverkope, sal ons voortgaan om die vertroulikheid van enige persoonlike inligting te verseker, en aan die betrokke gebruikers kennis gee voordat persoonlike inligting oorgedra word, of onderhewig raak aan ’n ander privaatheidsbeleid.
Inligtingsekuriteit
Ons werk hard om Google en ons gebruikers te beskerm teen ongemagtigde toegang of verandering, openbaarmaking of vernietiging van inligting waaroor ons beskik. Wat ons veral doen:
- Ons enkripteer baie van ons dienste deur SSL te gebruik.
- Ons bied aan jou ’n tweestap-verifikasieproses wanneer jy toegang tot jou Google-rekening wil kry, en ’n veilige deurblaaifasiliteit in Google Chrome.
- Ons hersien ons praktyk oor die insameling, berging en verwerking van inligting, insluitend fisiese sekuriteitsmaatreëls, om te waak teen ongemagtigde toegang tot ons stelsels.
- Ons beperk toegang tot persoonlike inligting deur werknemers, kontrakteurs en agente van Google wat kennis moet dra van hierdie inligting om dit vir ons te kan verwerk, en wat onderworpe is aan streng kontraktuele vertroulikheidsvereistes en wat gedissiplineer of afgedank kan word as hulle nie aan hierdie vereistes voldoen nie.
Program
Ons privaatheidsbeleid is van toepassing op al die dienste wat deur Google Inc. en sy affiliale gebied word, insluitend dienste op ander webwerwe (soos ons adverteringsdienste), maar sluit dienste uit wat afsonderlike privaatheidsbeleide het wat nie hierdie privaatheidsbeleid insluit nie.
Ons privaatheidsbeleid is nie van toepassing op dienste wat deur ander maatskappye of individue gelewer word nie, insluitend produkte of webwerwe wat aan jou in soekresultate gewys kan word, webwerwe wat Google-dienste insluit, of ander webwerwe wat aan ons dienste geskakel is. Ons privaatheidsbeleid dek nie die inligtingspraktyk van ander maatskappye en organisasies wat ons dienste adverteer en wat webkoekies, piekselmerkers en ander tegnologie kan gebruik om relevante advertensies aan te bied nie.
Afdwinging
Ons hersien gereeld ons nakoming van ons privaatheidsbeleid. Ons lê ons ook neer by verskeie selfregulerende raamwerke. As ons formele geskrewe klagtes ontvang, sal ons die persoon wat die klag ingedien het, kontak om dit op te volg. Ons werk saam met die relevante reguleringsowerhede, insluitend plaaslike databeskermingsowerhede, om enige klagtes oor die oordrag van persoonlike data wat ons nie direk met ons gebruikers kan oplos nie, op te los.
Veranderinge
Ons privaatheidsbeleid kan van tyd tot tyd verander. Ons sal nie jou regte onder hierdie privaatheidsbeleid inkort sonder jou uitdruklike toestemming nie. Ons sal enige verandering aan ons privaatheidsbeleid op hierdie blad aankondig, en as die veranderinge beduidend is, sal ons ’n meer prominente kennisgewing voorsien (insluitend ’n kennisgewing via e-pos van veranderinge aan die privaatheidsbeleid vir sekere dienste). Ons sal ook vorige weergawes van die privaatheidsbeleid in ’n argief hou sodat jy daarna kan terugverwys.
Spesifieke produkpraktyke
Die volgende kennisgewings verduidelik spesifieke privaatheidpraktyke met betrekking tot sekere Google-produkte en -dienste wat jy dalk mag gebruik: