Google Drive se diensbepalings

Laas gewysig op 10 Desember 2018 Intreedatum: 22 Januarie 2019

1. Inleiding

Dankie dat jy Google Drive gebruik. Google Drive is 'n diens wat verskaf word deur Google LLC (“Google” of “ons”), geleë te 1600 Amphitheatre Parkway, Mountain View California 94043, VSA. As jy in die Europese Ekonomiese Gebied of Switserland gebaseer is, word Google Drive verskaf deur Google Ireland Limited (“Google” of “ons”), 'n maatskappy wat geïnkorporeer is en wat bedryf word ingevolge wetgewing in Ierland (Geregistreerde nommer: 368047), en geleë is te Gordon House, Barrow Street, Dublin 4, Ierland. Hierdie Google Drive-diensbepalings (wat ons die "Bepalings" noem), dek jou gebruik van en toegang tot Google Drive en jou inhoud in Google Drive. Ons privaatheidsbeleid verduidelik hoe ons jou inligting insamel en gebruik, terwyl ons programbeleide jou verantwoordelikhede wanneer jy ons Diens gebruik, uiteensit.

Jou gebruik van Google Drive vereis dat jy instem tot die bepalings. Lees dit asseblief noukeurig. As jy nie die bepalings verstaan nie, of enige deel daarvan nie aanvaar nie, behoort jy nie Google Drive te gebruik nie.

2. Jou gebruik van Google Drive

Ouderdombeperkings. Jy moet 13 jaar of ouer wees om Google Drive te mag gebruik. Indien jy 13 jaar of ouer is, maar jonger as 18 is, moet jy jou ouer of wettige voog se toestemming hê om Google Drive te gebruik en om die bepalings te aanvaar.

Persoonlike gebruik. Deur hierdie bepalings te aanvaar, stem jy in om nie Google Drive vir besigheidsdoeleindes te gebruik nie. Jy moet die Drive-diens net vir persoonlike nie-kommersiële doeleindes gebruik. Ons beveel aan dat besighede G Suite gebruik.

Jou Google-rekening. Jy moet 'n Google-rekening hê om Google Drive te kan gebruik. Hou jou wagwoord vertroulik om jou Google-rekening te beskerm. Jy is verantwoordelik vir die aktiwiteit wat op of deur jou Google-rekening gebeur. Probeer om nie jou Google-rekening-wagwoord vir derdepartyprogramme te hergebruik nie. As jy bewus word van enige ongemagtigde gebruik van jou wagwoord of Google-rekening, kan jy hierdie instruksies volg.

Jou gedrag. Moenie Google Drive verkeerd gebruik nie. Jy mag Google Drive slegs gebruik soos gemagtig deur wetgewing, insluitend toepaslike uitvoer- en heruitvoer-beheerwetgewing en -regulasies. Jy is verantwoordelik vir jou gedrag en vir jou inhoud wat op Google Drive gestoor word, en jy moet hou by ons programbeleide. Ons kan jou gedrag en jou inhoud in Google Drive hersien vir voldoening aan die bepalings en ons programbeleide.

Google Drive is beskikbaar op mobiele toestelle. Moenie Google Drive op 'n manier gebruik wat jou aandag aftrek en jou verhoed om verkeers- of veiligheidswette te gehoorsaam nie.

Jou inhoud. Google Drive stel jou in staat om inhoud op te laai, in te dien, te stoor, te stuur en te ontvang. Jy behou eienaarskap van enige intellektuele-eiendom-regte wat jy in daardie inhoud het. Kortliks, wat aan jou behoort bly joune.

Wanneer jy inhoud oplaai, indien, stoor, stuur of ontvang deur Google Drive, gee jy aan Google 'n wêreldwye lisensie om sodanige inhoud te gebruik, te huisves, te stoor, te reproduseer, te wysig, afgeleide werke te skep (soos dié wat die gevolg is van vertalings, aanpassings of ander veranderinge wat ons aanbring sodat jou inhoud beter met ons dienste saamwerk), te kommunikeer, te publiseer, publiek uit te voer, publiek ten toon te stel en te versprei. Die regte wat jy in hierdie lisensie toeken, is vir die beperkte doel om ons dienste in werking te hou, te bevorder en te verbeter, en om nuwe dienste te ontwikkel. Hierdie lisensie bly geldig selfs al hou jy op om ons dienste te gebruik, tensy jy jou inhoud uitvee. Maak seker dat jy oor die nodige regte beskik om aan ons hierdie lisensie te gee vir enige inhoud wat jy by Google Drive indien.

Deelinstellings in Google Drive stel jou in staat om beheer te hê oor wat ander mense met jou inhoud in Google Drive kan doen. By verstek word jy opgestel as die beheerder van alle inhoud wat jy skep of oplaai na Google Drive toe. Jy kan jou inhoud deel en jy kan beheer van jou inhoud aan ander gebruikers oordra.

Ons outomatiese stelsels ontleed jou inhoud om jou te voorsien van persoonlik relevante produkfunksies, soos gepasmaakte soekresultate en strooipos- en wanwarebespeuring. Hierdie ontleding word gedoen wanneer inhoud ontvang, gedeel, opgelaai en gestoor word. Jy kan meer inligting kry oor hoe Google inhoud gebruik en stoor in ons privaatheidsbeleid. As jy terugvoer of voorstelle oor Google Drive indien, kan ons jou terugvoer en voorstelle gebruik sonder enige verpligting teenoor jou.

Aankondigings. Ons kan vir jou diensaankondigings, administratiewe boodskappe en ander inligting stuur in verband met jou gebruik van Google Drive. Jy kan kies om sommige van daardie kommunikasie nie te ontvang nie.

Ons Google Drive-dienste. Die gebruik van Google Drive gee nie aan jou eienaarskap van enige intellektuele-eiendom-regte in Google Drive of die inhoud wat jy besoek nie. Jy mag nie inhoud van Google Drive gebruik nie, tensy jy toestemming van die eienaar het of andersins deur die wet gemagtig word. Hierdie bepalings verleen nie aan jou die reg om enige handelsmerke of logo's te gebruik wat in Google Drive gebruik word nie. Jy mag nie enige regskennisgewings wat in of saam met Google Drive gewys word, verwyder, verberg of verander nie.

3. Privaatheidbeskerming

Google se privaatheidsbeleid verduidelik hoe ons jou persoonlike data hanteer en jou privaatheid beskerm wanneer jy Google Drive gebruik. Deur Google Drive te gebruik, stem jy in dat Google sodanige data kan gebruik in ooreenstemming met ons privaatheidsbeleide.

4. Kopieregbeskerming

Ons reageer op kennisgewings van beweerde kopieregskending en beëindig die rekeninge van herhaalde oortreders volgens die proses wat uiteengesit is in die Amerikaanse Digital Millennium Copyright Act.

Ons verskaf inligting om kopieregeienaars te help om hul intellektuele eiendom aanlyn te bestuur. As jy vermoed dat iemand jou kopiereg skend en jy wil ons daarvan in kennis stel, kan jy inligting vind oor die indiening van kennisgewings en Google se beleid oor reaksie op kennisgewings in ons Hulpsentrum.

5. Programbeleide

Ons kan inhoud hersien om te bepaal of dit onwettig is of in stryd met ons programbeleide, en ons kan inhoud verwyder of weier om dit te wys indien ons redelikerwys glo dat dit in stryd is met ons beleide of die wet. Maar dit beteken nie dat ons noodwendig inhoud hersien nie, moet dus asseblief nie aanvaar dat ons dit wel doen nie.

6. Oor sagteware in ons dienste

Kliëntsagteware. Google Drive sluit aflaaibare kliëntsagteware ("sagteware") in. Hierdie sagteware kan outomaties op jou toestel opgedateer word sodra 'n nuwe weergawe of kenmerk beskikbaar is. Google bied aan jou 'n persoonlike, wêreldwye, tantiemvrye, nie-oordraagbare en nie-eksklusiewe lisensie om die sagteware wat deur Google aan jou verskaf word te gebruik as deel van Google Drive. Hierdie lisensie is vir die uitsluitlike doel om jou in staat te stel om die voordele van Google Drive soos deur Google verskaf, te gebruik en te geniet op die wyse wat deur hierdie bepalings toegelaat word. Jy mag nie enige deel van Google Drive of ingeslote sagteware kopieer, wysig, versprei, verkoop of verhuur nie, en jy mag ook nie omgekeerde ontwikkelingswerk doen of poog om die bronkode van daardie sagteware uit te vind nie, tensy wetgewing daardie beperkings verbied of tensy jy ons skriftelike toestemming het.

Oopbronsagteware. Oopbronsagteware is vir ons belangrik. Sommige sagteware wat in Google Drive gebruik word, kan aangebied word onder 'n oopbronlisensie wat ons aan jou beskikbaar sal stel. Daar kan voorwaardes in die oopbronlisensie wees wat sommige van hierdie bepalings uitdruklik ignoreer.

7. Wysiging en beëindiging van Google Drive

Veranderinge aan Google Drive. Ons is voortdurend besig om Google Drive te verander en te verbeter. Ons kan werkverrigting- of sekuriteitverbeterings maak, funksies en kenmerke verander, of veranderinge aanbring om aan wetgewing te voldoen of om onwettige aktiwiteite op ons stelsels, of misbruik van ons stelsels, te voorkom. Jy kan hier inteken om inligting oor Google Drive te ontvang. Ons sal vooraf kennis gee van wesenlike veranderinge aan Google Drive wat ons redelikerwys glo 'n negatiewe impak op jou gebruik van Google Drive sal hê. Daar sal egter tye wees wanneer ons veranderinge aan Google Drive moet maak sonder om jou in kennis te stel. Dit sal beperk wees tot gevalle waar ons moet optree om sekuriteit en werking van die stelsel te verseker, waar ons misbruik moet voorkom, of wanneer ons moet optree om aan wetlike vereistes te voldoen.

Opskorting en beëindiging. Jy kan enige tyd ophou om Google Drive te gebruik, alhoewel ons spyt sal wees om jou te verloor. Ons kan jou toegang tot Google Drive opskort of permanent deaktiveer as jy ons bepalings of ons programbeleide wesenlik of herhaaldelik oortree. Ons sal vir jou vooraf kennis gee as ons jou toegang tot Google Drive gaan opskort of deaktiveer. Ons kan egter jou toegang tot Google Drive sonder enige kennis opskort of deaktiveer as jy Google Drive gebruik op 'n manier wat vir ons wetlike aanspreeklikheid kan veroorsaak of ander gebruikers se toegang en gebruik van Google Drive ontwrig.

Beëindiging van Google Drive. As ons besluit om Google Drive te staak, sal ons jou ten minste 60 dae vooraf kennis gee. Gedurende hierdie kennistydperk sal jy die geleentheid hê om jou lêers uit Google Drive te haal. Na afloop van die tydperk van 60 dae sal jy nie meer toegang tot jou lêers hê nie. Ons glo dat jy jou lêers besit en dat dit belangrik is om jou toegang tot hierdie lêers te behou. As jy instruksies benodig oor hoe om jou lêers af te laai, besoek gerus ons steundiensbladsy.

8. Aankoop van bykomende berging en betalings

Gratis berging. Google stel vir jou 15 GB gratis aanlynberging beskikbaar by Google (onderworpe aan jou voldoening aan die bepalings), wat gebruik kan word met Google Drive, Gmail en Google Foto's.

Aankoop van bykomende berging. Jy kan ook bykomende berging (betaalde bergingspakket) aankoop wanneer jy dit benodig. Ons sal jou outomaties met die bedrag hef vanaf die datum wat jy oorskakel na 'n betaalde bergingspakket en op elke periodieke dienstermynhernuwing tot en met kansellering. Om 'n betaalde bergingspakket te koop, moet jy instem tot die betaalvoorwaardes soos gespesifiseer in Google Payments se diensbepalings. As jy nie 'n Google Payments-rekening het nie, kan jy een opstel deur te gaan na hierdie skakel, waar jy ook meer inligting kan vind oor Google Payments. Die Payments-diensbepalings en -privaatheidkennisgewing is ook van toepassing wanneer jy 'n betaalde bergingspakket wil aankoop met gebruik van 'n Google Payments-rekening. Maak asseblief seker dat jy daardie bepalings noukeurig lees voordat jy enige aankoop maak.

Kansellering. Jou betaalde bergingspakket sal van krag bly totdat dit gekanselleer, afgegradeer of beëindig word volgens hierdie bepalings. Jy kan jou betaalde bergingspakket enige tyd kanselleer of afgradeer vanuit jou Google Drive se berginginstellings. Jou kansellering of afgradering sal van toepassing wees op die volgende faktureringperiode nadat die huidige dienstermyn verstryk het. Indien jy nie jou betaalde bergingspakket betyds betaal nie, hou ons die reg voor om jou rekening af te gradeer en jou berging te verminder na gratis spasievlakke. Ons verduidelik die kansellering- en terugbetalingsproses vir jou betaalde bergingspakket in ons Aankoop-, kansellering- en terugbetalingbeleid.

Pakket- en prysveranderinge. Ons kan die bergingspakket en -prys wat van krag is verander, maar sal vir jou vooraf kennis van hierdie veranderinge gee. Hierdie veranderinge sal van toepassing wees na die verstryking van jou huidige dienstermyn, wanneer die volgende betaling deur jou verskuldig is ná die kennisgewing. Ons sal jou ten minste 30 dae vooraf kennis gee van 'n prysverhoging of bergingspakketvermindering voordat jy met die bedrag gehef word. Indien jy minder as 30 dae vooraf kennis gegee word, sal die verandering nie van toepassing wees tot die betaling wat ná die volgende betaling betaalbaar is nie. Indien jy nie wil voortgaan met die opgedateerde bergingspakket of -prys nie, kan jy jou betaalde bergingspakket enige tyd vanuit jou Google Drive se berginginstellings kanselleer of afgradeer. Jou kansellering of afgradering sal van toepassing wees op die volgende faktureringsperiode na die huidige dienstermyn; ons sal voortgaan om jou lêers vir jou beskikbaar te stel of aan jou die geleentheid bied om jou lêers uit Google Drive te verwyder.

9. Ons waarborge en vrywarings

Ons verskaf Google Drive met 'n redelike vlak van vaardigheid en sorg, en ons hoop jy sal dit geniet om Google Drive te gebruik. Daar is egter sekere dinge wat ons nie oor Google Drive beloof nie. Behalwe vir dit wat uitdruklik uiteengesit word, maak ons geen beloftes oor die spesifieke funksionaliteit wat deur Google Drive beskikbaar is of oor die betroubaarheid of beskikbaarheid daarvan nie, of die vermoë om aan jou behoeftes te voorsien nie.

10. Aanspreeklikheid vir Google Drive

Google en sy verskaffers en verspreiders is nie verantwoordelik of aanspreeklik vir die volgende nie:

(a) verliese wat nie veroorsaak is deur ons breuk van hierdie bepalings nie;

(b) enige verlies of skade wat, ten tye van die opstel van die betrokke kontrak met jou, nie 'n redelike voorsienbare gevolg was van Google se breuk van die bepalings nie; of

(c) verliese wat verband hou met enige besigheid van jou, insluitend verlore winste, inkomste, geleentheid of data.

Die totale aanspreeklikheid van Google, en sy verskaffers en verspreiders, vir enige eis onder hierdie bepalings, insluitend vir enige nie-uitdruklike waarborge, is beperk tot die bedrag wat jy aan ons betaal het om die dienste te gebruik (of, as die onderwerp van die eis die gratis diens is, om weer hierdie diens aan jou te verskaf).

Niks in hierdie bepalings word bedoel om die aanspreeklikheid van Google en sy verskaffers en verspreiders vir dood of persoonlike besering, bedrog, bedrieglike wanvoorstelling of enige aanspreeklikheid wat nie deur die wet uitgesluit kan word nie, uit te sluit of te beperk nie.

11. Wette wat die bepalings bestuur.

As jy buite die Europese Ekonomiese Gebied en Switserland woon, sal die wette van Kalifornië, VSA, uitsluitend Kalifornië se reëls oor botsende wette, van toepassing wees op enige dispute wat spruit uit of verband hou met hierdie Bepalings of Google Drive. Alle eise wat voortspruit uit of verband hou met hierdie Bepalings of Google Drive sal uitsluitlik in die federale of deelstaathowe van Santa Clara County, Kalifornië, VSA, gelitigeer word en jy en Google stem in tot persoonlike jurisdiksie in daardie howe.

As jy in die Europese Ekonomiese Gebied of Switserland woon, sal die wette en howe van jou land van verblyf van toepassing wees op enige dispute wat spruit uit of verband hou met hierdie Bepalings of Google Drive, en jy kan geregtelike stappe in jou plaaslike howe instel. Dispute kan vir aanlyn beslegting by die Europese Kommissie se aanlyn platform vir dispuutbeslegting ingedien word.

12. Meer oor hierdie bepalings

Ons kan hierdie bepalings of enige bykomende bepalings wat op Google Drive van toepassing is, verander, byvoorbeeld: om veranderinge in Google Drive of in wetgewing, gebruike of politieke of ekonomiese beleid te reflekteer; of in reaksie op riglyne wat deur reguleerders of relevante industrie-instellings uitgegee is; of om Google in staat te stel om aan verpligtinge te voldoen. Jy behoort gereeld na die bepalings te kyk. Ons sal kennisgewings van veranderinge aan hierdie bepalings op hierdie bladsy plaas. Ons sal kennisgewings van veranderinge aan bykomende bepalings ("Bykomende bepalings") in Google Drive plaas en sal vir jou vooraf kennis gee van wesenlike veranderinge aan die bepalings. Veranderinge sal nie terugwerkend van toepassing wees nie en sal nie vroeër as 14 dae nadat jy in kennis gestel is of nadat dit geplaas is, van krag wees nie. Veranderinge wat nuwe funksies of kenmerke ("Nuwe dienste") betref of veranderinge wat vir wetlike redes gemaak is, sal egter dadelik van krag wees. Indien jy nie instem tot die veranderde bepalings vir 'n Nuwe diens nie, moet jy jou gebruik van daardie Nuwe diens staak (sien "Beëindiging" hierbo vir meer inligting).

As daar 'n konflik tussen hierdie bepalings en die bykomende bepalings is, sal die bykomende bepalings vir daardie konflik geld.

Hierdie bepalings beheer die verhouding tussen jou en Google. Dit skep nie enige regte vir derdepartybegunstigdes nie.

As jy nie aan hierdie bepalings voldoen nie, en ons neem nie dadelik stappe teen jou nie, beteken dit nie dat ons enige van ons regte prysgee nie (soos om in die toekoms stappe te neem).

As dit sou gebeur dat 'n spesifieke bepaling nie afdwingbaar is nie, sal dit nie ander bepalings beïnvloed nie.

Besoek gerus ons kontakbladsy vir inligting oor hoe om met Google kontak te maak.