Van stokperdjie tot die wêreldverhoog – hoe die kartering van Frans-Polinesië se natuurskoon onmeetbare voordele vir sy plaaslike inwoners tot gevolg gehad het.

Frans-Polinesië – strande met wit sand, golwende voetslaanpaaie, en Unesco-wêrelderfenisgebiede maak dit ’n gewilde bestemming vir die emmerskoplys. Terwyl ander nog daaroor droom, het Christophe Courcaud ’n unieke geleentheid raakgesien om Straataansig te gebruik om die paradys nader te bring en Tahiti se toerisme te help floreer.

1 800 km

gefotografeer

1 200 000

prente

via

8K

skermresolusievideo's

8+

eilande

18

hotelle gepubliseer

+450

besigheidlysinskrywings
geskep

Meng plig met plesier

Christophe, aangevuur deur sy liefde vir Straataansig en die wonderskone eilande van Frans-Polinesië, het Tahiti 360 in 2019 gestig. Die maatskappy spesialiseer in die fotografering en oplaai van 360°-prente van groot natuurtonele in Frans-Polinesië, insluitend staproetes en strande, op Straataansig. En hoewel hy hoofsaaklik daarop fokus om die skoonheid van die eilandbestaan vas te vang en uit te beeld, help Christophe ook plaaslike besighede om sigbaarder te raak met meesleurende, binnenshuise virtuele toere op Straataansig.

Die kartering van Frans-Polinesië

In hierdie tyd wanneer byna alles gedigitaliseer is, is dit moeilik om te glo dat slegs satellietbeelde van Frans-Polinesië beskikbaar was totdat Christophe en Tahiti 360 daar aangekom het. Om sake nog verder te kompliseer, het strate op eilande soos Bora Bora en Tahiti glad nie name gehad nie, wat dit vir toeriste én plaaslike inwoners moeilik gemaak het om oor die weg te kom. Die ergste is dat dit die werk van nooddienste soos brandbestryders, nooddienspersoneel en wetstoepassers moeiliker gemaak het as wat nodig was.

 

Ek het altyd geglo dat Straataansig die vermoë het om fantastiese voordele aan plaaslike gemeenskappe te bied. Die vermoë om jouself in ’n spesifieke gebied te projekteer en die omgewing te leer ken voordat jy nog jou huis verlaat het, het my altyd gefassineer. Dit het veral nuttig gelyk in Frans-Polinesië, waar dit byna onmoontlik was om jou weg maklik te vind.

-

Christophe Courcaud, stigter van Tahiti 360

 

Google Straataansig: Kartering van Bora Bora

Die plaaslike owerhede het besef watter voordele Straataansig vir lewe op die eilande kan bied, en het daarom met Tahiti 360 saamgespan om alle paaie in Tahiti, Moorea, Bora Bora, Raiatea, Maupiti, Huahine, Fakarava en Rangiroa met verwysings te karteer. Christophe het veldvoertuie, gholfkarretjies, elektriese fietse, waterponies en selfs perde gebruik om 1 800 km van Frans-Polinesië te deurkruis. Nou is dit moontlik om regstreekse verkeersopdaterings, voorstelle vir vinnigste roetes en rigtingaanwysings na plaaslike besighede in Tahiti op Google Maps te kry, deels te danke aan Christophe se dekking en plaaslike geografiese data wat die owerhede gedeel het. Dit is veral nuttig vir nooddienste wat danksy dit meer doeltreffende diens oral op die eiland kan lewer. Laastens het toegang tot Tahiti 360 se prente op Straataansig ook stedelike beplanning en die instandhouding van geboue en padtoestande vereenvoudig.

Toegang tot UNESCO se Wêrelderfenisterrein

Tahiti 360 se meesleurendste toer is van Taputapuatea op die eiland Raiatea. Dié UNESCO-Wêrelderfenisterrein speel ’n groot rol daarin om elke jaar meer as 300 000 besoekers na Frans-Polinesië te lok. Deur die skoonheid daarvan in 360 vas te vang, het Christophe dit egter vir miljoene moontlik gemaak om dit virtueel te ervaar. Christophe se gepubliseerde werk op Straataansig het ’n wonder van die wêreld na ons skerms gebring, en nou kan ons almal dit verken.

Dit wil gedoen wees om ’n hele eiland te dek, maar Christophe was slaggereed vir die uitdaging. Om seker te maak dat hy alles wat Bora Bora bied in 360 vasvang, het hy die eiland per motor, per boot en te voet verken. Dit het Christophe net sewe dae geneem om die hele eiland te karteer, en dit op Straataansig beskikbaar te maak sodat almal dit kan ervaar.

Buiten Bora Bora, het Christophe ook al die strate van Papeete, Tahiti se hoofstad, asook die dorp Pirae afgeneem. Die sigbaarheid het vrugte afgewerp toe prente van albei dorpe op Straataansig verskyn.

Plaaslike besighede het ook op Straataansig ’n kans gekry om uit te blink. Groot hotelgroepe soos Intercontinental, Manava en Hilton, sowel as kleiner bed-en-ontbyt-besighede, was opgewonde oor die geleentheid om hul geriewe op ’n wêreldverhoog ten toon te stel.

Nog bydraes vir die emmerskoplys

Tahiti 360 beoog om teen die einde van die jaar al die eilande in Frans-Polinesië te dek, met Maupiti, Tahaa, die Marquesas-eilande, die Gambier-eilande en die Austraal-eilande nog in die vooruitsig. En hoewel daar steeds 'n groot gebied in Frans-Polinesië is om te dek, beplan Christophe klaar aan sy volgende avontuur. Hy het reeds ingestem om saam met Franse plaaslike owerhede in sy tuisdorp te werk om 400 km se fietspaadjies, die drywende tuine van Amiens en 'n toerismetrein vir Somme Tourisme te dek. Christophe sal ook die dorp Teahupoo dek – gasheer van die branderrykompetisie by die Olimpiese Spele in 2024. Tussenin beoog hy ook om die eilande van Nieu-Kaledonië, Wallis en Futuna by Straataansig te voeg, om die plaaslike inwoners se daaglikse lewe te verbeter en meer mense te help om die paradys te verken.

Straataansig is 'n samewerkingsplatform waar bydraers gemeenskappe kan help floreer, besighede kan help groei en wonders van die wêreld nader aan die huis kan bring deur meesleurende prente op Google Maps te publiseer. Die beste van alles is dat enigiemand hul eie sukses met Straataansig kan karteer – al wat dit verg, is daardie eerste stap om by te dra.

Deel jou eie Straataansig-prente